Krieketwêreldbeker 1999
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 1999 (Engels: 1999 Cricket World Cup; Nederlands: Wereldkampioenschap cricket 1999) is van 14 Mei tot 20 Junie 1999 in Engeland (nominale gasheer), Ierland, Nederland, Skotland en Wallis beslis. Dit was die sewende krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die vierde in Engeland. Dié land het voorheen die toernooie van 1975, 1979 en 1983 gehuisves.[3] Die toernooi is drie jaar ná die vorige krieketwêreldbekertoernooi aangebied, waarmee dit van die gewone periode van vier jaar afgewyk het.[4]
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 1999 | |
Datums | 14 Mei – 20 Junie |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groepfase, Super Ses en uitklopfase |
Gashere | Engeland (nominale gasheer) Ierland Nederland Skotland Wallis |
Kampioen | Australië (2de titel) |
Naaswenner | Pakistan |
Deelnemers | 12 (34 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 42 |
Speler van die reeks | Lance Klusener |
Meeste lopies | Rahul Dravid (461)[1] |
Meeste paaltjies | Geoff Allott Shane Warne (20 elk)[2] |
← 1996 2003 → |
Twaalf nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 1999 deelgeneem: Die destydse nege toetskrieketlande (Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die drie beste spanne van die IKK-trofee 1997 (Bangladesj, Kenia en Skotland). Tydens die Krieketwêreldbeker 1999 is 42 wedstryde gespeel, waaronder 30 tydens die groepfase, nege in die Super Ses, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van ses spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die drie beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Ses gekwalifiseer, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet het. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan.[5]
Australië, Nieu-Seeland, Pakistan en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Australië het Suid-Afrika en Pakistan het Nieu-Seeland geklop, voordat Australië die eindstryd op Lord’s in Londen teen Pakistan met agt paaltjies gewen en sodoende sy tweede titel ingepalm het. Australië het daarmee die eerste land geword wat die nuwe permanente krieketwêreldbekertrofee verower het; vir die vorige toernooie is verskeie trofeë oorhandig.[6] Daarbenewens het hulle ná Wes-Indië (in 1975 en 1979) die tweede krieketland geword wat die titel vir ’n tweede keer ingepalm het.[7] Die verdedigende kampioen Sri Lanka is reeds in die groepfase uitgeskakel: die eerste verdedigende kampioen in die Krieketwêreldbekergeskiedenis wat nie tot die uitklopfase deurgedring het nie. Die nasionale krieketspanne van Bangladesj en Skotland het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem. Interessant genoeg is die Rugbywêreldbeker 1999 op ’n soortgelyke manier deur vyf Europese lande aangebied (met Frankryk pleks van Nederland) en ook deur Australië gewen, die eerste land wat dit tot dusver vermaak het om albei wêreldbekertoernooie in dieselfde jaar te wen.