Milnerisme
From Wikipedia, the free encyclopedia
Lord Alfred Milner het 'n belangrike rol gespeel in die voorspel tot die Anglo-Boereoorlog. Na die oorlog is hy aangestel as die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika en goewerneur van Transvaal en die Oranjerivierkolonie.
Die woord Milnerisme is deur Afrikaners geskep en het betrekking gehad op die aspekte van sy beleid wat vir hulle onaanvaarbaar was, naamlik verengelsing deur middel van immigrasie en onderwys, en die stigting van 'n verenigde Britse Suid-Afrika, waarin daar vir Afrikaner sosialisme geen plek sou wees nie. In die opsig het Milnerisme vir die Afrikaner dieselfde betekenis as die begrip imperialisme gehad. Lord Alfred Milner (1854- 1825), wat 'n leidende rol gespeel het in die voorspel tot die Anglo-Boereoorlog, is na die Vrede van Vereeniging as goewerneur van Transvaal en die Oranjerivierkolonie aangestel.
Hy was ook die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, maar het sy amp as goewerneur van die Kaapkolonie in 1901 neergelê. Terwyl die oorlog nog in Februarie 1901 aan die gang was, is Milner reeds deur die Britse regering versoek om die administrasie van die twee republieke, wat in 1900 amptelik geannekseer is, oor te neem. Hy was sterk gekant teen Kitchener se beleid van die verwoesting van plase en die internering van die burgerlike bevolking in konsentrasiekampe omdat hy besef het dat dit die taak van heropbouing sou bemoeilik.
Brittanje het die oorlog teen die Boererepublieke gevoer sodat hy sy oppergesag in Suid-Afrika kon vestig. Die doel is met die Vrede van Vereeniging bereik: die 2 republieke is in Britse kroonkolonies omgeskep en al die gebiede in Suid-Afrika was dus onder die Britse vlag. Milner het die oorlog egter net as ʼn voorspel tot 'n groter taak beskou.
Hy wou naamlik die Britse gesag konsolideer deur 'n verenigde Suid-Afrika as deel van die Britse Ryk tot stand te bring. Die vernaamste aspekte van die beleid wat hy met die doel voor oë gevoer het, was die heropbou en ekonomiese rehabilitasie van Transvaal en die Vrystaat, verengelsing (deur middel van die onderwys en die vestiging van Britse immigrante) en kroonkoloniebestuur totdat die verengelsing volkome geslaag was.