Antiogië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Antiogië of Antiogië aan die Orontes (Grieks: Ἀντιόχεια ἡ ἐπὶ Ὀρόντου; Turks: Antakya; Siries: ܐܢܛܝܘܟܝܐ) was ’n antieke Siriese stad aan die oostekant van die Orontesrivier. Die stad se ruïnes lê tans in Turkye, by die moderne stad Antakya. Dit was ook bekend as Antiogië aan die Dafni, Antiogië die Grote en Siriese Antiogië.
Antiogië Antakya | |
---|---|
Antieke stad | |
Kaart van Antiogië in die Romeinse en vroeë Bisantynse tyd. | |
Koördinate: 36°12′N 36°9′O | |
Land | Turkye |
Provinsie | Hatay |
Stigting | 293 v.C. |
Stigter | Seleucus I Nicator |
Volle naam | Antiogië aan die Orontes |
Oppervlak | |
• Totaal | 15 km2 (6 vk. myl) |
Kulture | Grieks, Romeins, Arabies |
Dit is aan die einde van die 4de eeu v.C. gestig deur Seleucus I Nicator, een van Alexander die Grote se generaals. Die stad het gegroei veral danksy die speseryhandel, Syroete en Persiese Koninklike Roete, en het eindelik met Alexandrië meegeding om die titel as grootste stad van die Nabye Ooste.
Vanweë sy lang bestaan en die rol wat dit gespeel het in die opgang van die vroeë Christendom is die stad die "wieg van die Christendom" genoem.[1] Ná ’n vooruitstrewende tydperk waarin Antiogië sowat ’n halfmiljoen inwoners gehad het, het dit tydens die Middeleeue agteruitgegaan weens herhaalde aardbewings, invalle deur die Kruisvaarders en die verskuiwing van die handelsroetes weg van Antiogië ná die Mongoolse verowerings in die 13de eeu.