Geostasionêre wentelbaan
sirkelvormige sinchroniese wentelbaan 35,786 km bokant die Aarde se ewenaar, 42,164 km vanaf die Aarde se middelpunt en volg die rigting van die Aarde se rotasie / From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Geostasionêre wentelbaan, ook bekend as 'n geosinchrone ewenaarwentelbaan,[N 1] is 'n sirkelvormige sinchroniese wentelbaan 35 786 km bo die Aarde se ewenaar, 42 164 km van die Aarde se middelpunt af. Dit volg die rigting van die Aarde se rotasie.
'n Voorwerp in so 'n wentelbaan se omwentelingsperiode is net so lank as die Aarde se rotasieperiode, naamlik een sideriese dag. Vir waarnemers wat op die grond staan, lyk dit asof die satelliet bewegingloos in 'n vaste posisie in die lug bly hang. Die konsep van 'n geostasionêre wentelbaan is in die 1940's deur die wetenskapsfiksieskrywer Arthur C. Clarke gewild gemaak as 'n manier om telekommunikasie te rewolusioneer en die eerste satelliet in sy soort is in 1963 gelanseer.
Kommunikasiesatelliete word meestal in 'n geostasionêre wentelbaan geplaas sodat die aardstasie se paraboolantennes nie nodig het om te roteer om die satelliet te volg nie. Dit kan dus hulle antennes permanent direk op die satelliet gerig hou; waar dit ook al oor die ewenaar hang. Weersatelliete word ook in 'n geostasionêre wentelbaan geparkeer vir werkliketydmonitering en dataversameling. Navigasiesatelliete word ook hier geparkeer om 'n bekende, gekalibreerde punt en meer akkurate GPS-inligting te verskaf.
Geostasionêre satelliete word gelanseer en dan via 'n tydelike parkeerwentelbaan in die korrekte posisie bokant 'n spesifieke punt van die Aarde bo die ewenaar geplaas. Gedurende die satelliet se operasionele lewensduurte word klein aanpassings soms gedoen om dit in posisie te hou. Die moderne satelliete wat aan diens onttrek word, word hoër geskuif na die sogenaamde begraafplaaswentelbane om botsings te vermy.