Hoërskool Nassau
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Hoërskool Nassau was 'n Afrikaansmediumhoërskool in die Kaapstadse voorstad Observatory tot dit in Januarie 1962 verhuis het na Mowbray en wat in Januarie 1934 as twee standerd-sewe-klasse in die Laerskool Nassau ontstaan het.
Die stigting van albei skole was 'n regstreekse voortvloeisel van die Armblankevraagstuk van die vroeë jare dertig toe groot getalle Afrikaners na die minder gegoede voorstede van Kaapstad, soos Observatory, Woodstock en Soutrivier, gestroom het in die hoop om werk te kry in die fabrieke wat destyds, soos vandag, in dié gebiede naby aan die middestad geleë was. Die eerste voorsitter van die skoolkomitee, ds. E.G. du Toit, indertyd leraar van die NG gemeente Observatory, se ywer en liefde vir die Afrikanerkind het hom die voorste kampvegter gemaak vir 'n Afrikaanse hoërskool om in die behoefte van Afrikaanse kinders in die gebied wat die voorstede Observatory, Pinelands, Woodstock en selfs Rondebosch insluit, te voorsien.