Judaïsme (vanaf Latyn: Iudaismus, afgelei van Grieks: Ἰουδαϊσμός, oorspronklik van Hebreeus: יהודה, Jehoedá, "Judah"; in Hebreeus: יהדות, Jahadoet) of Jodedom is die godsdiens van die Jode met omtrent 15 miljoen volgelinge wêreldwyd in 2006. Dis een van die eerste monoteïstiese godsdienste wat opgeteken is, en een van die oudste tradisies wat nog gevolg word. Judaïsme verskaf ook die waardes en historiese agtergrond tot ander godsdienste, soos Christendom en Islam. Daarbenewens kan die term Judaïsme ook na die Jode se tradisies en leefwyse, hul filosofie en gewoonlik ook hul kulture verwys asook na die Jode as 'n groep.[1] Jerusalem, Hebron, Safed en Tiberias vorm die vier heilige stede van Judaïsme.[2] Chanoeka, Jom Kippoer, Pesach, Poerim, Roosj Hasjana, Sabbat, Sjavuot, Soekkot en Tisj'a be'Aw (alfabetiese volgorde) is van die vernaamste feeste en herdenkings in die Joodse kalender.[3][4][5]