Paradysvoël
From Wikipedia, the free encyclopedia
Paradysvoëls (familie Paradisaeidae) is kleurvolle voëls wat in die tropiese reënwoude van Nieu-Guinee en sommige omliggende eilande voorkom. Veral die mannetjies het opvallende siervere. Kenmerkend van dié voëls is dat mannetjies tydens hulle pronkery, 'n gedrag by diere om maats aan te trek en oor te haal tot paring, 'n gebied afbaken waarbinne hulle dan pronk.
Paradysvoël | |
---|---|
Paradisaea rubra | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | Paradisaeidae |
Genus | |
Sien teks |
Ereboogvoëls word ook hier behandel, hoewel daar meningsverskil bestaan oor of hulle aan paradysvoëls verwant is, al dan nie. Hulle is baie valer as paradysvoëls, maar die mannetjies baken ook tydens hulle pronkery 'n eie gebied af. Daarby bou baie spesies ook ’n struktuur, die sogenaamde ereboog, waarmee hulle die wyfies lok. Paradysvoëls (familie Paradisaeidae) is boombewoners wat in sekere tropiese reënwoude voorkom. Hulle het waarskynlik in Nieu-Guinee ontstaan en vandaar na die Molukke, die Aroe-eilande, ander naburige eilande en Noordoos-Australië versprei.
Die mannetjies se verekleed is gewoonlik helderkleurig en skitter, wat klaarblyklik baie aantreklik vir die valer wyfies is. By baie spesies pronk meer as een mannetjie om dieselfde wyfie, maar elke mannetjie baken sy eie pronkgebied af en verdedig dit fel teen indringers. Paradysvoëls vorm nie pare nie. Die wyfie moet alleen die koepelvormige nes bou, broei en die kleintjies versorg. Enkele spesies bou geen neste nie, maar lê twee tot drie eiers in 'n gat in 'n boom.
Hul voedsel bestaan uit vrugte en insekte en die groter spesies vang soms 'n muis of 'n ander klein voel. Paradysvoëls roep met 'n onwelluidende gekras. In Europa was aanvanklik net die huide, wat soms opgestop is, van paradysvoëls bekend. Die eerste vere is in 1522 deur Magellaan, die eerste mens wat om die wêreld gereis het, na Europa gebring. Omdat die pote nie meer aan die huide was nie, het die mense geglo dat die voëls glad nie pote het nie. Daar is geglo dat hulle in die paradys teel en nooit aarde toe kom nie. Hul enigste voedsel sou hemelse dou wees en die wyfie sou haar eiers op die mannetjie se rug lê en dit sou daar uitbroei. Lewende paradysvoëls is eers in 1824 deur Blankes ontdek en die mite omtrent die voëls is toe vir goed die nek ingeslaan.
Hul vere het egter steeds gewild gebly as versierings vir vrouehoede. In 1924 is die jag op paradysvoëls aan bande gelê. Amptelik mag net die inheemse bevolking die voëls sonder toestemming jag indien hulle die vere nodig het vir hul tradisionele kostuums. Teenswoordig is die inheemse bevolking se jag baie vergemaklik met behulp van ingevoerde gewere. Die kostuums wat deur hulle by tradisionele rituele gedra word het ter wille van toerisme ook al hoe veelkleuriger geword.