Rooi Leër
1917-1946 / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rooi Leër was die weermag van die Sowjetunie wat kort ná die Russiese Rewolusie tot stand gebring is. Die amptelike Russiese naam is Рабоче-крестьянская Красная армия, wat vertaal kan word as die Rooi Arbeiders- en Boereleër.
Rooi Leër | |
---|---|
Die Rooi Leër se kenteken | |
Gestig | 23 Februarie 1918 |
Ontbind | 25 Februarie 1946 |
Land | Russiese SFSR (1918–1922) Sowjetunie (1922–1946) |
Onderdeel van | Gewapende magte van die Russiese Federasie (1918–1922) Gewapende magte van die USSR (1922–1946) |
Tipe | Weermag |
Hoofkwartier | Moskou, Sowjetunie |
Kommandostruktuur | Landmagte en lugmagte |
Kleur | Rooi |
Veldslae | Tweede Wêreldoorlog |
Die Rooi Leër is amptelik op 23 Februarie 1918 gestig. Voor dit was daar reeds 'n Rooi Garde, maar hulle het eerder as 'n soort partypolisie van die Bolsjewiste as 'n leër gefungeer. Leon Trotsky word as die stigter en organiseerder van die leër beskou.
In 1920 word Michail Toechatsjefski die opperbevelhebber van die Rooi Leër, 'n pos wat hy tot 1937 sou beklee. In hierdie jaar is bykans die hele topbestuur, insluitende Toechatsjefski, as deel van die Groot Suiwering tereggestel omdat Josef Stalin vir 'n staatsgreep gevrees het. Offisiere met laer range is tereggestel, tot dwangarbeid veroordeel of ontslaan. Die party het hierdie poste met politiek betroubare, maar minder bekwame offisiere gevul. As gevolg hiervan het enorme chaos tydens die Duitse aanval op Rusland in 1941 tydens die Tweede Wêreldoorlog geheers en het die Rooi Leër enorme verliese gely.
Tydens die oorlog was maarskalk Georgi Zjoekof die opperbevelhebber. Onder sy leiding het die Rooi Leër die Duitsers op die oosfront verslaan en dit het tot die val van Berlyn gelei.
Die Rooi Leër het beide 'n militêre en politieke komponent gehad. Vir elke bevelvoerder van 'n reglement was daar ook 'n politieke kommissaris. Die doel hiervan was om te verseker dat offisiere en soldate kommunisties geskool bly. Later is die stelsel van politieke kommissarisse afgeskaf.
In 1935 het die Raad van Volkskommissarisse (die kabinet van die USSR) vyf persone van die Rooi Leër as maarskalk van die Sowjetunie benoem. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is meer generaals tot maarskalk van die Sowjetunie bevorder.
In 1946 is die woord 'Rooi' uit die naam gehaal, en het die leër as die Sowjet-leër bekend gestaan.
Verskeie terroristegroepe soos die Rote Armee Fraktion, asook die Japannese Rooi Leër het 'n doelbewuste verwysing na die Rooi Leër in hul naam.