Wes-Indië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Wes-Indië, dikwels ook die Wes-Indiese Eilande of Karibiese Eilande genoem, is 'n eilandboog tussen die Karibiese See en die Atlantiese Oseaan. In krieket word Wes-Indië deur die Wes-Indiese nasionale krieketspan verteenwoordig, een van die sterkste nasionale krieketspanne wêreldwyd, wat ook spelers van Guyana in Suid-Amerika insluit. Wes-Indië het vir elke krieketwêreldbekertoernooi gekwalifiseer en ook die eerste twee toernooie (in 1975 en 1979) gewen. Die Krieketwêreldbeker 2007 is vir die eerste keer in agt Wes-Indiese eilandstate aangebied en deur die verdedigende kampioen Australië gewen. Daarbenewens het Wes-Indië die T20I-wêreldbeker 2010 aangebied en dié toernooi in 2012 en 2016 gewen. Hulle sal saam met die Verenigde State die T20I-wêreldbeker 2024 aanbied.[1]
Wes-Indië | |
---|---|
Ligging van Wes-Indië ten opsigte van die Amerikas | |
Geografie | |
Ligging | Atlantiese Oseaan, Karibiese See, Golf van Meksiko |
Koördinate | 21°59′N 79°2′W |
Totale eilande | meer as 100 |
Hoofeilande | Bahamas, Groot en Klein Antille |
Oppervlakte | 234 325 vk km |
Administrasie | |
Sien teks.
| |
Demografie | |
Bevolking | 39 156 084
|
Die Karibiese Eilande sluit al die eilande in wat in die Karibiese See, tussen Noord- en Suid-Amerika, lê. Kuba is die verste wes in die eilandgordel en Barbados die verste oos. Die grootste eilande, van wes na oos, is Kuba, Jamaika, Hispaniola (Haïti en die Dominikaanse Republiek) en Puerto Rico.
Die eilande vorm saam die Groot Antille. Die Bahamas vorm 'n noordelike uitloper van die eilandgordel, terwyl die Klein Antille ('n versamelnaam vir die Benedewindse en Bowindse eilande) 'n suidelike uitloper is.
Tussen Puerto Rico en die Klein Antille lê 'n groepie eilande, die Britse Maagde-eilande, terwyl Barbados, Trinidad en Tobago, die Venezuela-eilande, Aruba, Curaçao en Bonaire teen die kuslyn van Suid-Amerika geleë is. Sommige eilande, soos Jamaika, Trinidad en Tobago, Barbados, die Bahamas en Dominica ('n eiland van die Klein Antille), is onafhanklike lede van die Britse Gemenebes, Guadeloupe (Klein Antille) en Martinique (Klein Antille) is oorsese gebiede van Frankryk, terwyl Puerto Rico en enkele van die Amerikaanse Maagde-eilande onder die gesag van die Verenigde State staan.
Sommige van die Klein Antille-eilande is oorsese gebiede van Nederland. Die Karibiese Eilande lê in 'n tropiese klimaatstreek, tussen 12 en 26° NB, en die klimaat word deur die Karibiese Eilande Noordoos-passaat oorheers. Die Karibiese See is 'n warm see met twee belangrike strome, die Antillestroom in die noorde en die Karibiese stroom in die suide. Die Karibiese Eilande het 'n droë en 'n nat seisoen: die meeste reën val in die somer en die minste in die winter. Gedurende die lente en herfs is die klimaat onaangenaam omdat dit baie warm en die humiditeit hoog is.
Die oorspronklike bewoners van die Karibiese Eilande was Indiane, maar hulle getalle het sterk afgeneem sedert die kolonisasie van die eilande. Saam met die koloniste het slawe uit Wes-Afrika na die eilande gekom om op die plantasies te werk. Vandag is die Swart bevolking in die meerderheid. Voorts bestaan die bevolking uit immigrante uit die Midde-Ooste (meestal handelaars) en 'n klein groepie Jode wat van Portugal na die eilande geïmmigreer het.
Die Blankes vorm sosio-ekonomies steeds die bolaag van die bevolking, hoewel hulle verreweg in die minderheid is. Suikerriet is die eilande se belangrikste produk. Ander belangrike landbouprodukte is tabak (Kuba), koffie (Haïti en Dominikaanse Republiek), piesangs (Puerto Rico en Jamaika), sitrusvrugte (Trinidad en Tobago) en palmolie (Barbados). Die grootste deel van die eilande se opbrengs beland egter uiteindelik in die buiteland omdat die plantasies deur buitelandse ondernemings bedryf word.