Dakar-beraad
gesprekke in 1987 tussen ’n groep Afrikaanssprekendes en leiers van die ANC in ballingskap wat in Dakar, Senegal plaasgevind het / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Dakar-beraad was gesprekke in 1987 tussen ’n groep Afrikaanssprekendes en leiers van die ANC in ballingskap wat in Dakar, Senegal plaasgevind het.[1] In Julie 1987 het 'n groep van 60 Afrikaanse skrywers, joernaliste, sakemanne, politici en ander intellektueles, in weerwil van opposisie deur die destydse Nasionale Party regering, en die Afrikaanse pers, met die ANC vergader. Die vergadering kan gesien word as 'n sleutelgebeurtenis in samesprekings tussen Afrikaners en die ANC wat sou lei tot die vreedsame bereik van demokrasie in Suid-Afrika.
Die Afrikaanse afvaardiging verlaat Johannesburg op 7 Julie 1987 en vlieg via Londen en Parys na Dakar waar hulle op die aanloopbaan deur Thabo Mbeki, Essop Pahad en Steve Tshwete ingewag word. Senegal se president Abdou Diouf open die verrigting. Onder die tema van “Hoe gaan oorgang plaasvind?” word verskeie sake soos die gewapende stryd teen Apartheid bespreek. Die beraad eindig met 'n verklaring waarin die beraadgangers hulle ten gunste van ernstige beraadslaging met die ANC uitspreek in die soeke na 'n oplossing vir konflik en die oorgang na 'n vreedsame en regverdige toekoms.
Voor hulle terugkeer besoek die groep ook saam met die ANC-afvaardiging Akkra in Ghana waar hulle met president Jerry Rawlings vergader en Ouagadougou in Burkina Faso waar hulle met President Thomas Sankara vergader. Naby Ouagadougou help Thabo Mbeki en Beyers Naudé 'n monument teen apartheid oprig. Met hulle terugkeer op 20 Julie 1987 word die groep deur die polisie begelei nadat die aankomssaal by Jan Smuts Lughawe deur die AWB onder leiding van Eugene Terre'blanche oorgeneem is.