Japannese
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Japannese of Japanners (Japannees: 日本人 Nihonjin) is 'n inheemse etniese groep in Japan.[26][27][28][29][30] Japannese maak sowat 98,5% van die totale bevolking van dié land uit.[31]
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep in Oos-Asië. Vir die taal, sien Japannees, en vir die taalfamilie, sien Japannese tale.
Wêreldwyd is sowat 130 miljoen mense van Japannese afkoms; daarvan leef omtrent 127 miljoen in Japan. Mense van Japannese afkoms wat in ander lande woon word nikkeijin (日系人) genoem. Die term etniese Japannese kan in sommige kontekste ook gebruik word om na verwante etniese groepe soos die Yamato, Ainoe en Ryukyu te verwys.
Verreweg die grootste Japannese diaspora het in die Amerikas gevestig, veral in Brasilië en die Verenigde State, bykans 3 miljoen mense. Die Japannese in Brasilië is sterk geassimileer en praat veral Portugees, net 'n minderheid gebruik nog Japannees. Terwyl Japannese veral tussen die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog in Brasilië gevestig het, het die Verenigde State die meeste Japannese ná die einde van die Pasifiese Oorlog gelok.
In Suid-Afrika woon 1 238 Japannese, veral in Johannesburg en ander groot stede. Hulle praat veral Engels, Japannees en Afrikaans. Die meeste Japannese het hul tydens apartheid in Suid-Afrika gevestig, waartydens Japan Suid-Afrika se grootste handelsvennoot was.[32]