Krieketwêreldbeker 2019
Twaalfde krieketwêreldbeker / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 2019 (Engels: 2019 Cricket World Cup) is van 30 Mei tot 14 Julie 2019 in Engeland en Wallis beslis.[3] Dit was die twaalfde krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die vyfde in Engeland. Dié land het voorheen die toernooie van 1975, 1979, 1983 en 1999 gehuisves, meer as enige ander land.[4]
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 2019 | |
Datums | 30 Mei – 14 Julie |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Engeland Wallis |
Kampioen | Engeland (1ste titel) |
Naaswenner | Nieu-Seeland |
Deelnemers | 10 (24 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 48 |
Bywoning | 752 000 (15 667 per wedstryd) |
Speler van die reeks | Kane Williamson |
Meeste lopies | Rohit Sharma (648)[1] |
Meeste paaltjies | Mitchell Starc (27)[2] |
← 2015 2023 → |
Tien nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 2019 deelgeneem: Die gasheer Engeland, die sewe beste spanne van die IKR EDI-kampioenskap (Australië, Bangladesj, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Suid-Afrika), saam met die twee beste spanne van die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2018 (Afghanistan en Wes-Indië). Tydens die Krieketwêreldbeker 2019 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 45 tydens die groepfase en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die toernooi het op 30 Mei met die openingswedstryd tussen die gasheer Engeland en Suid-Afrika op die Londense The Oval begin. Al die spanne het in een groep gespeel en 45 wedstryde is gespeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die vier beste spanne het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die eindstryd is op 14 Julie op Lord’s in Londen gehou.[5] ’n Soortgelyke formaat is voorheen in die Krieketwêreldbeker 1992 in Australië en Nieu-Seeland gebruik, en sal ook in die volgende Krieketwêreldbeker 2023 in Indië aangewend word.
Australië, Engeland, Indië en Nieu-Seeland het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Nieu-Seeland het Indië en Engeland het die verdedigende kampioen Australië geklop, voordat die gasheer Engeland die eindstryd op Lord’s in Londen teen die 2015-naaswenner Nieu-Seeland gewen het deur meer grenshoue in die beslissende Superboulbeurt aan te teken en sodoende hul eerste titel ingepalm het. Dit is die eerste keer sedert die 1992-toernooi dat twee spanne in die eindwedstryd ontmoet het wat nog nie ’n titel ingepalm het nie. Engeland het ná Indië in 2011 en Australië in 2015 die derde agtereenvolgende gasheer geword wat die krieketwêreldbekertoernooi tuis gewen het. Daarbenewens is dit ná sokker in 1966 en rugby in 2003 die derde wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het. Lord’s het vir die vyfde keer ’n krieketwêreldbekereindstryd gehuisves, meer as enige ander krieketveld.[6] Suid-Afrika kon vir die eerste keer sedert die 2003-toernooi – wat onder andere in Suid-Afrika aangebied is – nie tot die uitklopfase deurdring nie.
Die Internasionale Krieketraad het voor die Krieketwêreldbeker 2015 aangekondig dat net tien van die vernaamste krieketnasies aan die volgende toernooie van 2019 en 2023 sal kan deelneem.[7] Dit het groot kritiek uitgelok, omdat veral die geassosieerde lede van die IKR gevrees het dat die afstand in kwaliteit tussen hulle en die voorste toetskrieketlande groter sou word.[8][9][10] Die IKR se redenasie vir hierdie stap is egter ’n beter bemarkingsmoontlikheid van die kompetisie, want al die spanne sou dan mededingend wees.[11] Buitendien het die opgradering van Afghanistan en Irland tot toetslande beteken dat vir die eerste keer volle lede van die IKR nie aan ’n krieketwêreldbekertoernooi kon deelneem nie. Zimbabwe het vir die eerste keer sedert 1979 nie vir ’n krieketwêreldbekertoernooi gekwalifiseer nie. Vir die eerste keer in die toernooi se geskiedenis was die helfte van die deelnemende spanne uit Suid-Asië. Van al die ander vastelande (Afrika, Amerikas, Australië, Europa en Oseanië) het net een span elk deelgeneem.
Met sowat 2,6 miljard televisiekykers wêreldwyd was die Krieketwêreldbeker 2019 tot dusver die mees gesiene krieketwêreldbekertoernooi.[12] Die wedstryd tussen die aartsvyande Indië en Pakistan op 16 Junie 2019 te Old Trafford in Manchester het sowat een miljard televisiekykers gelok.[13]