Ontwikkelende land
land met 'n lae lewenstandaard relatief tot ander lande / From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Ontwikkelende land, voorheen ook genoem onderontwikkelde land of Derdewêreldland, is ’n land met ’n minder ontwikkelde nywerheidsbasis en ’n lae menslike ontwikkelingsindeks (MOI) met betrekking tot ander lande.[2] Daar is geen algemeende aanvaarde kriterium vir wat ’n ontwikkelende land is in vergelyking met ’n ontwikkelde land nie,[3] hoewel daar algemene verwysingspunte is soos ’n land se koopkragpariteit in vergelyking met ander lande.
Daar is kritiek teen die gebruik van die term, omdat dit minderwaardigheid impliseer, en baie lande hou nie daarvan nie. Die term gaan uit van die veronderstelling dat alle lande die Westerse model van ekonomiese ontwikkeling moet volg, terwyl ’n paar lande soos Kuba en Bhoetan verkies om dit nie te doen nie.[4] Lande op die grens tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande word dikwels verenig onder die term "nuut geïndustrialiseerde lande".[5][6][7][8] ’n Alternatiewe term is "lae- en middelinkomsteland".
Volgens skrywers soos Walt Whitman Rostow is ontwikkelende lande in ’n oorgangstadium van ’n tradisionele lewenstyl na die moderne lewenstyl wat in die 18de en 19de eeu met die Nywerheidsrevolusie begin het.
In die uitgawe van 2016 van die Wêreldbank se aanduidings van wêreldontwikkeling is besluit om nie meer tussen "ontwikkelde" en "ontwikkelende" lande te onderskei nie.[9]