Rugbywêreldbeker 2003
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 2003 (Engels: 2003 Rugby World Cup) is van 10 Oktober tot 22 November 2003 in Australië beslis. Oorspronklik was ook wedstryde in Nieu-Seeland beplan, maar ná ’n dispuut tussen die Nieu-Seelandse Rugbyunie en die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) is dié plan laat vaar. Dit was die vyfde rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die IRR aangebied word en die derde in die Suidelike Halfrond. Australië het met Nieu-Seeland die eerste Rugbywêreldbeker 1987 saam gehuisves.
Rugbywêreldbeker 2003 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Australië |
Datums | 10 Oktober – 22 November |
Aantal nasies | 20 (88 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Engeland |
Naaswenner | Australië |
Derde plek | Nieu-Seeland |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 48 |
Bywoning | 1 837 547 (gem. 38 282 per wedstryd) |
Drieë | 329 (gemiddeld 6.85 per wedstryd) |
Meeste punte | Jonny Wilkinson (113)[1] |
Meeste drieë | Doug Howlett Mils Muliaina (7 drieë elk)[2] |
← 1999 |
2007 → |
20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2003 deelgeneem: die agt regstreekse kwalifiseerders van die 1999-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die twaalf beste spanne van die kwalifisering (Fidji, Georgië, Ierland, Italië, Japan, Kanada, Namibië, Roemenië, Samoa, Tonga, Uruguay en die Verenigde State). Tydens die Rugbywêreldbeker 2003 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Die spanne wat tot die kwarteindrondte gevorder het (altesaam agt spanne), het ook regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk gekwalifiseer.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2003 is Engeland, Nieu-Seeland, Frankryk, Australië en Suid-Afrika as gunstelinge op die titel beskou.[3][4] Engeland het die eindstryd op Telstra-stadion in Sydney teen die verdedigende kampioen en gasheer Australië met 20–17 gewen, nadat ’n bykomende tien minute ekstra tyd toegestaan is toe die telling 17–17 was, en sodoende sy eerste wêreldtitel ingepalm. Engeland het daarmee die eerste nasionale rugbyspan van die Noordelike Halfrond geword om die toernooi te wen. Daarbenewens is dit ná sokker in 1966 die tweede wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het; in 2019 het ook die krieketwêreldbekertitel gevolg. Nieu-Seeland het in die derde en Frankryk in die vierde plek geëindig; interessant genoeg het die vier groepwenners as die vier beste spanne van die toernooi geëindig. Suid-Afrika is in die kwarteindrondte deur Nieu-Seeland met 9–29 uitgeskakel; Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel. Die Georgiese nasionale rugbyspan het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem. Rudie van Vuuren, wat vir Namibië gespeel het, het voorheen met dié land se nasionale krieketspan ook aan die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika deelgeneem, waardeur hy die eerste sportlui geword het wat in dieselfde jaar in twee verskillende sportkodes aan wêreldbekertoernooie deelgeneem het.[5]
Die Rugbywêreldbeker 2003 het om verskeie redes geskiedenis gemaak: nadat die Rugbywêreldbeker 1999 se ingewikkelde formaat met vyf groepe van vier spanne elk en die uitspeelrondte gekritiseer is, is vir die Rugbywêreldbeker 2003 ’n eenvoudiger formaat gebruik, waarvolgens die 20 spanne in vier groepe van vyf elk verdeel is. Vervolgens was dit die eerste rugbywêreldbekertoernooi waartydens 48 wedstryde gespeel is. Daarbenewens is vir die eerste keer in die groepfase die bonuspuntstelsel gebruik vir die druk van vier of meer drieë of ’n nederlaag met sewe of minder punte. Die toernooi was volgens die ekonomiese impak die tweede grootste sportgebeurtenis wat nog in Australië aangebied is ná die Olimpiese Somerspele 2000, groter as die Melbourne Lentewedrenkarnaval 2002, die Australiese Grand Prix en die Australiese Ope. Die organiseerders het 65 000 oorsese besoekers verwag wat na Australië vir die aangeleentheid sou reis.[6] Die gasheer en verdedigende kampioen Australië het die eerste span geword wat daarin geslaag het om vir ’n derde keer in ’n eindstryd te verskyn. Die Rugbywêreldbeker 2003 het ook die opkoms van Georgië, wat sedertdien vir elke rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer het, gesien.[7] Die Rugbywêreldbeker 2003 is tot dusver die enigste toernooi waartydens geen speler ’n rooikaart gesien het nie.[8]