Wêreldtoetskampioenskap 2019–2021
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Wêreldtoetskampioenskap 2019–2021 (Engels: 2019–2021 ICC World Test Championship) is van 1 Augustus 2019 tot 23 Junie 2021 beslis. Dit was die eerste Wêreldtoetskampioenskap in toetskrieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is.[3] Dit het op 1 Augustus 2019 begin met die eerste toets in die As-reeks en geëindig op 23 Junie 2021 met die eindstryd op Rose Bowl, Southampton, Engeland.
Kenteken van die Wêreldtoetskampioenskap | |
Datums | 1 Augustus 2019 – 23 Junie 2021 |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Toetskrieket |
Toernooiformaat | Liga en eindstryd |
Gashere | verskeie |
Kampioen | Nieu-Seeland (1ste titel) |
Naaswenner | Indië |
Deelnemers | 9 |
Wedstryde gespeel | 61 |
Meeste lopies | Marnus Labuschagne (1675)[1] |
Meeste paaltjies | Ravichandran Ashwin (71)[2] |
← Geen |
Aan die Wêreldtoetskampioenskap 2019–2021 het nege van die destydse twaalf toetslande deelgeneem,[4][5] waarvan elke span ’n toetsreeks teen ses van die ander agt ander spanne gespeel het. Elke reeks het tussen twee en vyf wedstryde behels, dus het elke span ses reekse gespeel (elk drie tuis en weg); daar is egter nie met dieselfde aantal toetswedstryde vir elke span beplan nie. Elke span kon tydens elke reeks ’n maksimum 120 wedstrydpunte insamel en die twee spanne met die meeste wedstrydpunte het in die eindstryd ontmoet.[6] In die geval van ’n gelykop of onbesliste eindstryd sou albei spanne die trofee deel.[6] Die wêreldwye Covid-19-pandemie se invloed op die Wêreldtoetskampioenskap het daartoe gelei dat verskeie wedstryde uitgestel of gekanselleer is. In November 2020 het die IKR aangekondig dat die finaliste bepaal sou word deur die persentasie aan versamelde wedstrydpunte.[7][8]
Van die toetsreekse in die Wêreldtoetskampioenskap was deel van langer aaneenlopende reekse, soos die As-reeks 2019.[6] Van die nege deelnemende spanne sou ook bykomende toetswedstryde in die tydperk speel, wat nie deel was van die Wêreldtoetskampioenskap nie, maar wel van die IKR se Toekomstige Toerprogram vir 2018–23, veral om toetswedstryde aan die drie toetslande te besorg wat nie aan die Wêreldtoetskampioenskap 2019–2021 deelgeneem het nie.[6][9] Op 29 Julie 2019 het die IKR die Wêreldtoetskampioenskap amptelik ingestel.[10]
Op 2 Februarie 2021 het Australië weens die wêreldwye Covid-19-pandemie sy wegreeks teen Suid-Afrika uitgestel, waarvolgens Nieu-Seeland se plek in die eindstryd op Rose Bowl in Southampton gewaarborg was.[11][12] Op 6 Maart 2021 het Indië sy plek in die eindstryd bespreek, nadat hulle Engeland tuis met 3–1 verslaan het.[13] Nieu-Seeland het die eindstryd met agt paaltjies gewen, waarvolgens hulle hul tweede IKR-titel ná die Kampioenetrofee 2000 gewen het.[14]