Erosietipes
From Wikipedia, the free encyclopedia
In die studie van die aarde verwys erosie na die verskillende prosesse, (deur die vloei van water of wind) wat die grond, rotse of ander materiaal van een plek op die aardkors na 'n ander plek wegeneem. Wanneer die stukkies rots of grond afbreek in klastiese sediment, word daarna verwys as fisiese of meganiese erosie. Die verweerde rots en grond los dan in water op en vloei weg. Dit kan enigiets van net 'n paar millimeter tot duisende kilometers ver wegvloei.
Die tempo waarteen erosie plaasvind word bepaal deur sekere geomorfiese prosesse onder meer reënval, afslyting, wrywing, vloede, verwering deur wind, grondwaterprosesse en grondverskuiwings. Hiermee saam gaan ook kuslyn-erosie wat veroorsaak word deur die oseaan en branders, en gletser-erosie wat groot hoeveelhede grond verskuif wanneer die gletsers smelt of skuif. Die tempo waarteen hierdie dinge plaasvind, bepaal hoe vinnig 'n oppervlak ge-erodeer word. Gewoonlik vind fisiese erosie die vinnigste plaas teen steil hellings. Dinge soos die hoeveelheid water m.a.w. reënval, die intensie van die storms, windspoed, die krag van die branders en die atmosferiese temperatuur (veral by die gletsers) speel alles 'n rol in die erosieproses.[1]
Alhoewel erosie 'n natuurlike proses is, geskied dit tans 10 tot 40 keer vinniger weens menslike aktiwiteite. Oormatige of versnelde erosie het gevolge op die plek waar dit gebeur, sowel as elders. Weens die erosie is daar 'n afname in landbouproduktiwiteit omdat die vrugbare boonste laag van die grond weggevoer word. Die impak op die geologie is ook groot want met die boonste laag van die grond wat weggevoer is, verloor die grond die vermoë om sekere organismes te huisves en van hierdie organismes kan dan op groot skaal uitsterf. Die impak van die erosie elders is wanneer waterbronne soos riviere en spruite vol sediment word. Die sediment kan ook skade aan paaie en huise aanrig. Water- en wind-erosie is die twee belangrikste oorsake van die degradering van die grond en sorg vir ongeveer 84% van die globale degradering van grond en daarom is oormatige erosie een van die heel belangrikste omgewingsprobleme wêreldwyd.
Intensiewe landbou, ontbossing, paaie, klimaatverandering en die stede en dorpe wat al hoe groter word is van die menslike aktiwiteite wat 'n baie negatiewe effek op die omgewing het en al hierdie dinge bevorder erosie.[2] Tog is daar voorkomende maatreëls wat getref kan word, en herstelprosesse wat aangepak kan word wat erosie by sensitiewe areas verminder of totaal uitroei.