FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 19de FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Engels: FIFA World Cup South Africa 2010) is vanaf 11 Junie tot 11 Julie 2010 in Suid-Afrika aangebied. Dit was die eerste keer dat ’n Afrikaland die kans gekry het om hierdie tweede grootste sportfees ter wêreld (ná die Olimpiese Somerspele) te organiseer, nadat FIFA net aansoeke van dié vasteland toegelaat het; Suid-Afrika is bo Marokko en Egipte gekies.[3] Ná die Rugbywêreldbeker 1995 en die Krieketwêreldbeker 2003 was dit die derde Wêreldbekertoernooi in een van Suid-Afrika se gewildste sportsoorte; ná Engeland het Suid-Afrika die tweede land geword wat hierdie drie toernooie gehuisves het. Die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2009 het as ’n voorbereiding vir die gasheerland gedien.
FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 FIFA World Cup South Africa 2010 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Suid-Afrika |
Datums | 11 Junie – 11 Julie |
Spanne | 32 (van 6 konfederasies) |
Stadions | 10 (in 9 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Spanje (1ste titels) |
Tweede plek | Nederland |
Derde plek | Duitsland |
Vierde plek | Uruguay |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 64 |
Doele | 145 (2.27 per wedstryd) |
Bywoning | 3 178 856 (49 670 per wedstryd) |
Meeste punte | Diego Forlán Thomas Müller Wesley Sneijder David Villa (5 doele elk)[1] |
Beste speler | Diego Forlán[2] |
← 2006 2014 → |
32 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 deelgeneem. Die spanne is in agt groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die agtste eindrondte deurgedring het. Spanje het die trofee gewen nadat hulle Nederland op 11 Julie in Johannesburg se Sokkerstad met 1–0 in ekstra tyd geklop en sodoende hul eerste wêreldbekertitel ingepalm het. Spanje het die agtste nasie geword om ’n Wêreldbekertoernooi te wen en die eerste Europese span wat dit buite Europa vermag het. Al die vorige toernooie buite Europa is deur Suid-Amerikaanse spanne gewen. Met sy verowering van die wêreldbekertitel het Spanje regstreeks vir die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2013 in Brasilië gekwalifiseer. Duitsland het in die derde en Uruguay in die vierde plek geëindig. Die verdedigende kampioen Italië is reeds in die groepfase uitgeskakel; dieselfde lot wat voorheen Brasilië in 1966 en Frankryk in 2002 toegeval het.
Suid-Afrika is reeds in die groepsfase uitgeskakel: die eerste gasheerland in die Sokker-Wêreldbekertoernooi-geskiedenis wat nie na die uitklopfase kon deurdring nie. Die nasionale sokkerspan van Slowakye het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Hulle het vroeër deel uitgemaak van die Tsjeggo-Slowaakse nasionale sokkerspan. Serwië het vir die eerste keer onder dié naam aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem, nadat hul vroeër as Joego-Slawië en aansluitend as Serwië en Montenegro gespeel het.